»
K
A
N
T
B
A
L
K
«
ONDERWYS MOET SELFRESPEK HERWIN
Aug 9th, 2010 by admin

Mediaverklaring uitgereik op 9 Augustus 2010

Indicato neem met skok en teleurstelling kennis van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se deelname aan die staatdiensstaking en die samewerking met organisasies van kommunistiese ingesteldheid soos Cosatu. Die ontevredenheid met vergoedingsvlakke vir onderwysers word verstaan, maar die wyse waarop hier opgetree word, kan nie goedgepraat word nie.

VERKEERDE WERKSWYSE EN KEUSE VAN BONDGENOTE

Die wyse waarop die stakings gereël word, met pette, T-hemde wat uitgedeel en nog daarby “Bring jou vuvuzela!” en straatoptogte (SAOU se WK Nuusflits 38 van 2010) verlaag onderwysers tot maar net ‘n nog ‘n groep werkers wat ronddans. Dit lyk of onderwysers – insluitende die oorwegend Afrikaanssprekende korps van die SAOU – die vervlakking wat menseregte en al die sosialisme wat deur Kurrikulum 2005 in die skole ingedra is nou geabsorbeer het tot op ‘n punt wat daar weinig onderskeid tussen “leerders” en hulle onderwysers is as beide hulle laat aftrek na ‘n humanistiese lewensbeskouing van gelykheid en menseregte.

Die SAOU se webblad dra verskeie dokumente van die staking onder beheer van “Cde” (comrade) sus en so, ‘n term waarvan Afrikaners en regdenkendes wat die kommunisme verwerp en bestry, hulle voorheen duidelik afgeskei het. Dis ‘n skandelike dag dat die eens trotse SAOU nou in hierdie geselskap voordeel soek.

VERGOEDING IS PROBLEMATIES

Dit is so dat die onderwysberoep oor baie jare beskadig is deur vergoeding wat nie tred gehou het nie, en nie erkenning gegee het aan die professionele status en besonder belangrike posisie wat dit in ‘n samelewing behoort te hê nie. Dit is ook op die oomblik waar dat onderwysers gerus beter vergoed mag word, maar as die onderwysberoep homself verlaag tot stakings waarin hulle boonop soos ‘n klomp kommunistiese arbeiders met pette, T-hemde en vuvuzelas die strate invaar, doen hulle self mee aan die afbreek van die status van onderwys, wat in beginsel ‘n edele en hoogstaande funksie in die samelewing behoort te wees. Die regering moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie steurings in die onderwys as belastinggeld links en regs vermors word en in korrupsie opgaan, terwyl onderwysers nie opgebou word vir die belangrike rol wat hulle in die samelewing vervul nie.

VERHOUDING MET PRIVAATSKOLE

Hierdie optrede van die SAOU is onverantwoordelik en rig onberekenbare skade aan in die geloofwaardigheid van die uitoefening van dissipline in skole. Dit is ook ‘n terugslag vir die verhoudinge van die SAOU met privaatskole – en veral daardie privaatskole wat ernstig probeer om Afrikaanse christelike onderwys te handhaaf – as die SAOU met die werkersvakbonde in kommunistiese wyse van optrede saamspan pleks daarvan om sterker aansluiting te soek by die Afrikaanse christelike onderwysinisiatiewe.

Ouers wat ernstig is oor die handhawing van onderwysstandaarde en die opsoek van christelike onderwys vir hulle kinders, moet kennis neem dat hierdie staking die antitese tussen staatsonderwys en christelike privaatonderwys versterk, en dat die maak van besliste keuses tussen staatsonderwys en christelike onderwys nie langer uitgestel kan word nie.

Die christelike privaatskole, en meer spesifiek rolspelers soos die Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys (BCVO) en ARSO (Aksie Reformatoriese Onderwys) wat tot ‘n mate die ruimte vir Afrikaanse christelike onderwys te beset, moet egter ook besin hoe lank die onder-gekapitaliseerde situasie in hierdie geledere volhoubaar is. Intussen moet ons almal die onderwysers wat hier aanhou werk – dikwels met beperkte hulpbronne en met onbevredigende vergoeding – salueer. Dat hierdie personeelkorps nie staak en ronddans nie, is ‘n beskamende voorbeeld vir die SAOU se lede en moet ouers opnuut laat dink in watter skole kinders regtig leer hoe die gelowige sy lewe inrig, en waar daar standhoudende onderwys is waar roepingsbewustheid sigbaar is.

OPLOSSINGS

Die huidige regering het al dikwels gewys hoe min hy hom werklik aan sy bevolking sy behoeftes steur en die staking gaan weinig invloed op die regering hê. Dit breek onderwys net nog verder af.

Christelike Afrikaanse onderwys moet sy wortels terugvind, met insig hoe om dit in praktyk werkbaar te maak in die Suid-Afrika van die 21ste eeu. Die pad vir gesonde onderwys is een wat los staan van die huidige regering en aansluiting soek by westerse standaarde, en vrye onderwys is wat onder eie beheer van die gemeenskap vir die die onderwys opgestel is, staan, sonder regeringsinmenging.

Dit is bereikbaar deur privaatonderwys wat die Bybel bely en ken, en wat die onderwyser betaal wat sy werk werd is (Lukas 10:7; 1 Timotheüs 5:18). Dit verg sake-insig wat skole tot stand kan bring wat nie net in geestelikheid sterk staan nie, maar ook ‘n realistiese bestaan en loopbaan aan onderwysers kan bied. Die Afrikaner-sakemanne, geestelike en onderwysleiers se kundigheid moet saamgevoeg word om skole op te rig wat leerlinge en onderwysers vanself sal aantrek, en wat werklik in die 21ste eeu onderwys lewer.

As die skande van die staking waarin Afrikaner-christenonderwysers nou meedoen in die kommunistiese styl, kan dien om ons wakker te skud; om ons op te roep om met wesentlike kapitaal skole te bou wat die mooi ideale, maar sukkelende formate van Christelike Afrikaanse onderwys tot die eer van God en die voordeel van hele samelewing kan sterk maak, dan kan hierdie staking dalk tog ‘n goeie uitwerking hê.

LEONARD VAN DER DUSSEN
Besturende Direkteur

‘N STRATEGIE VIR ONS ONDERGANG
May 24th, 2010 by admin

Ons was in Suid-Afrika onder beskaafde bewind vir dekades lank daaraan gewoond dat ons kerke, skole en gemeenskapslewe ‘n redelike mate van eenheid gevorm het. Oor die algemeen was die gees van gereformeerde belydenis sigbaar in die staatskole gebaseer op kurrikulums en voorskrifte wat eerbied en ootmoed aan die Bybel en die Naam van die Here betoon het.

Dit het ons in die gewoonte gebring om nie te hard oor skool te hoef te gedink het nie. Onderwysstandaarde was opsigself sodanig dat min kommentaar nodig was, en dat mens selfs sou kon redeneer dat wat in geloofsleer dalk bietjie by die huis reggeskaaf moes word, in elk geval vergoed word deur goeie wiskunde, Engels, biologie en so meer. Vakonderwys op hoë peil met goeie resultate.

Dit het alles verander, maar het ons denkwyse en insig verander?

DIE HERSIENE NASIONALE KURRIKULUMVERKLARING

Die sogenaamde Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring oftewel Kurrikulum 2005, gaan van die volgende standpunte uit (wat hier in Engels aangehaal word, omdat dit eintlik so vreemd aan ons gereformeerde woordeskat is dat dit nie juis in Afrikaans werk nie) (1):

The Manifesto on Values, Education and Democracy (Department of Education, 2001) identifies ten fundamental values of the Constitution. These are:

  1. Democracy
  2. Social Justice and Equity
  3. Non-Racism and Non-Sexism
  4. Ubuntu (Human Dignity)
  5. An Open Society
  6. Accountability (Responsibility)
  7. Respect
  8. The Rule of Law
  9. Reconciliation

The Manifesto further identifies 16 strategies for familiarising young South Africans with the values of the Constitution. These strategies find expression inthe Revised National Curriculum Statement and include:

  1. Nurturing a culture of communication and participation in school.
  2. Role-modelling: promoting commitment as well as competence amongst educators.
  3. Ensuring that every South African is able to read, write, count and think.
  4. Infusing the classroom with a culture of human rights.
  5. Making Arts and Culture part of the curriculum.
  6. Putting history back into the curriculum.
  7. Learning about the rich diversity of cultures, beliefs and world views within which the unity of South Africa is manifested.
  8. Making multilingualism happen.
  9. Using sport to shape social bonds and nurture nation-building at schools.
  10. Ensuring equal access to education.
  11. Promoting anti-racism in schools.
  12. Freeing the potential of girls as well as boys.
  13. Dealing with HIV/AIDS and nurturing a culture of sexual and social responsibility.
  14. Making schools safe to learn and teach in and ensuring the rule of law.
  15. Promoting ethics and the environment.
  16. Nurturing the new patriotism, or affirming a common citizenship.

Daar is dalk dinge hierin wat op sigwaarde mooi klink, maar dadelik moet ons die vraag vra of die geregtigheid van God hierin is? Of hier belydenis is… of net menslike waardes. En dis daardie deel wat ons moet besef: die huidige staatskurrikulum gaan van die mens uit; daardie mens wat selfverlossing soek in die mensliefde en die mensvrede. Die “rule of law” wat hier bo bedoel word, is daardie verstrengelde menslike wetjies wat “social justice and equity” en sulke dinge probeer regkry, terwyl God se Tien Gebooie geen plek hier het nie. “Democracy” word ‘n beginsel (“fundamental value”) terwyl dit g’n Bybelse grond het dat sogenaamde demokrasie die wyse van regeringsamestelling móét wees nie. Israel van ouds wou minstens darem ‘n koning hê, en dit was al gereken as opstand teen God; Suid-Afrika van vandag wil sy redding in die mense se opregtheid en liefde vind: in ubuntu, in non-racism and non-sexism en an open society (sit maar die TV aan en slaan haas enige tydskrif vandag oop en sien presies hoe open ons society geword het: niks is meer heilig nie).

Hou steeds in gedagte dat die nege punte waarmee die kurrikulumverklaring die grondwet opsom, die nege punte as fundamental values oftewel beginsels voorhou. Uitgangspunte. Fondamente. (Dis nie duidelik hoekom daar net nege genoem word, maar na ten fundamental values verwys word nie).

Nou gaan die kurrikulumverklaring verder en stel 16 strategies. Dis eienaardige bewoording vir ‘n kurrikulum: ‘n kurrikulum kan seker uitgangspunte hê, of doelwitte of beginsels, maar hoekom strategies? Die strategies self gee die antwoord: dit is daarop uit om kinders te verander. Nie te onderrig of op te voed nie, soos ons gereformeerde onderwys se woordeskat werk nie, maar doelgerig (met ‘n plan, met ‘n strategie) te verander.

KINDERS WORD AAN DIE STRATEGIES OORGELEWER

Dit sal boekdele verg om elke strategie te ontleed, maar vir die gereformeerde kerkganger behoort dit nie so moeilik te wees om aan die hand van enkele voorbeelde voldoende in te sien hoe gevaarlik en onaanvaarbaar hierdie strategies is nie. Ons moet gewaarsku wees dat waar ons tot hiertoe maar filosofies die probleem van menseregte aangetoon het, ons in die kurrikulum self te doen het met ‘n reëlregte gekombineerde kommunistiese- en Afrika-aanslag op ons kinders en dus ons voortbestaan en ons belydenis. Strategies!

Kom ons gee voorbeelde:

  • Nurturing a culture of communication and participation in school wat in die menseregtekonteks die verskuiwing van leerling (wat as kind gehoorsaam aan die voete van sy leermeester leer, in ooreenstemming met ons belydenis dat alle mense in die erfsonde gebore is en sy skuld nog meer maak, die dat die kind geleer moet word) na leerder (die veronderstelde jong mens wat vanself gretig is om te leer en regte het dat iemand dit vir hom net moet fasiliteer) meegebring het. Dit manifesteer in onderwysers wat knak onder die las van leerders wat nie regtig gedissiplineer mag word nie. Ons weet dat die menseregte homself vasdraai. Die Bybel sê “spaar die roede nie”; die open society waarin die leerder funksioneer met participation en waar ubuntu (Human Dignity) en democracy die botoon voer bo-oor gehoorsaamheid aan die Wet van God laat geen ruimte vir orde nie, want wanneer die mens self wil orden, val dit plat. Maar die strategy is om kinders te leer dat hulle in alles participation het.
  • Infusing the classroom with the culture of human rights: die voorgaande punt bespreek hierdie probleem
  • Putting history back into the curriculum: hierdie strategy het net een betekenis: dwing ‘n verworde geskiedenis wat die Afrikaner valslik verneder in ons kinders se kele af. En baie van ons kinders en selfs ouers het reeds die skuldgevoel aangekweek en leer dit gretig aan. (Pa, Ma – weet jy wat in jou kind se skoolboeke staan?)
  • Die unity of South Africa is ‘n drogbeeld wat aan ons kinders opgedring word, gebaseer op die veronderstelling dat almal maar almal se kulture en gelowe en wêreldbeskouing moet aanleer en respekteer. Ons is in teenstelling daarmee: daar is net een God! Tog is daar selfs in Gereformeerde onderwysgeledereal stellings gepubliseer dat ons nie afbrekend van ander godsdienste moet leer nie! (2) In ons lewensbeskouing kan ons byvoorbeeld tog nie veelwywery as maar net ‘n kultuurverskynsel beskou en goedpraat nie? Tog is dit wat hier veronderstel word as daar van rich diversity of cultures gepraat word, naamlik dat ons die “ryk” inhoud van anti-kultuur (gemeet teen God se wet is dit anti-kultuur) nou as kultuur moet gaan beskou.

Die staatskole funksioneer onder bogenoemde baniere van fundamental values en strategies met hulle verwerplike inhoud. Al drie amptelik (staats) erkende matriekeksamens (staat, IEB en OAER) word onder die raamwerk en “sorg” van die staat onder toesig van sy instelling, Umalusi, afgelê (3). Ons doopbelofte verwys daarna om die verantwoordelikheid te neem om ons kinders in die regte leer te onderrig en te laat onderrig. Daar is in sommige skole nog onderwysers wat hier en daar weerstand bied, en individue wat die staat se verwerplike inhoude probeer weghou, maar dat daar nog nie ‘n massa-opstand van gereformeerde ouers gekom het en dat die privaatskole wat probeer om onder hierdie baniere van onderwys uit te kom, nie oorloop nie, is hartseer bevestiging daarvan dat die Afrikaner grotendeels sy kontak met sy kosbare belydenis van Dordt verloor het. Daar is inderdaad nog skole met sogenaamde christelike “waardes”, maar wat het van die belydenis geword?

WERP SKANSE OP

Deesdae word daar in baie gemeentes gevra waar die jongmanne dan is wat in die ampte moet dien? Waar die jong vrouens is wat die gereformeerde huishoudings moet opbou? Die strategy is alreeds met sukses teen ons toegepas, want baie is al omvorm tot sosialistiese burgers van ‘n menseregte eenheidstaat, waar mens nie golwe maak dat daar net een God en dat daar ware en valse kerk is nie. Daar is egter klein klompies getroues wat weerstand bied. Sluit by hulle aan. Hulle het meestal meer geloof en blinde daadkrag as wat hulle mooi strategieë het. Maar hulle open hulle skole se bestuursvergaderings met byvoorbeeld Psalm 20, en met die klem dan op vers 8: “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem in die Naam van die HERE onse God.”

Maar dis nie net blinde vertroue nie. Daar bestaan reeds baie in die vorm van privaatskole wat probeer om gereformeerde wortels terug te vind, om gesonde onderwys aan leerlinge te doseer, en waardeur die gety omgekeer kan word. Mits ons getrou is, en as gemeenskap en as volk nie langer huiwer om ons rug op die huidige verwerplike staatsbestel se fundamental values te keer, en ‘n skans op te werp tussen ons kinders en die 16 strategies nie, het ons die vermoë en is ons in staat om nie net onderwys vanuit die regte beginsels nie, maar ook van veel beter gehalte aan ons te kinders te gee.

Gaan soek as gesin dit wat ewige waarde het: nie strydwaens en perde nie, nie rugbyvelde en staatsamptelike eksamens nie, maar die roem in die Naam van die HERE onse God.

Leonard van der Dussen

(1) Die volledige teks van Revised National Curriculum Statement Grades R-9 (Schools) kan gelees word by http://www.info.gov.za/view/DownloadFileAction?id=70257

(2) “van ander godsdienste te leer…. met die nodige onderwyskundigheid…..sonder afbrekende opmerkings en karikaturisering, maar wel met ‘n kritiese ingesteldheid…”(ARSO-nuusbrief, Junie 2003).

(3) Umalusi maak dit in sy verslag van Desember 2008 oor die 2008-matriekeksamen duidelik dat die huidige situasie waar die BCVO, ARSO en sommige ander privaat- en selfs staatskole lewensoriëntering tot ‘n soort christelike onderrig omvorm nie noodwendig verdra gaan word nie: “There seem to be no clear demarcation between LO and Religion Studies in the OAER. The OAER needs to find a balance between Life Orientation (as a subject) and how the subject is approached. It would be more beneficial to separate the Religion Studies component from Life Orientation in order to give both subjects the required attention.” (2008 – Report on the Quality Assurance of the National Senior Certificate Assessment and Examination; Umalusi: Council for Quality Assurance in General and Further Education and Training; bl 29)

LEERLINGE IS NIE LEERDERS NIE
Apr 24th, 2010 by admin

Onderwys in Suid-Afrika val rond. Staatsonderwys misluk klaaglik, terwyl dieselfde staatsbestel kommunistiese beheer uitoefen oor alle onderwys met wetgewing, eensydige toepassing van wetgewing en deur Kurrikulum 2005 allerweë af te dwing en die outonomiteit en daarmee akademiese integriteit van tersiêre opleiding te ontneem.

Pogings in Afrikanergeledere om beter onderwys aan te bied, en om kinders uit die staat se kloue te hou, maak dikwels gebruik van aansprake op gereformeerde onderwys, calvinistiese grondslae en soortgelyke terminologie. Dit kan net volhoubaar wees as dit werklik doen en is wat dit sê.

Woordeskat en taalgebruik is in tye van rewolusie en gedurige verandering besonder belangrik. Jou woordeskat en die uitdrukkings wat jy gebruik en watter jy juis nie gebruik nie, sê aan watter kant jy staan. In rewolusietyd is daar verskeie kampe en standpunte, nie net twee netjies teenoorgestelde kante van vriend en vyand nie, en is dit des te belangriker om jou baie duidelik te onderskei wie en wat jy presies is en glo.

Dis jammer dat Latyn as vak so skaars geword het, en dat die aanleer van Europese derde tale dikwels as nutteloos afgemaak word: taalkennis maak mens geestelik weerbaarder teen die subtiele propaganda wat ons omring as jy taalstruktuur verstaan; tot en met die agtervoegsels.

Die relatiwisme van ons tyd (alles is maar so bietjie reg), en die vermyding van sterk beginsels om ‘n gemaklike sosiale lewe te kan hê, dra by tot luiheid in korrekte en doelgerigte taalgebruik.

Die woorde “leerling” en “leerder” mag nie as blote sinonieme hanteer word nie: die rewolusie hou van die woord “leerder” en die woord is gevaarlik vir christelike onderwys.

WOORDEBOEK

Die naslaan van die woorde “leerling” en “leerder” het ‘n resultaat opgelewer in die eenvoudige waarneming dat “leerder” ‘n 21ste eeuse woord is: effens ouer woordeboeke ken hierdie woord nie. In die vyfde uitgawe (2005) van die HAT, word “leerder” soos volg verklaar:

leer’der s.nw (-s) Persoon, student wat leer; veral aan ‘n skool; skolier, leerling.

In ‘n geskakeerde blokkie daaronder word die volgende aantekening gemaak: “Die vorm leerder word tans algemeen deur die onderwysdepartemente verkies bo leerling en skolier”.

Dieselfde woordeboek verklaar “leerling” soos volg:

leer’ling s.nw (-s) 1 Persoon wat van ‘n leermeester onderwys kry; vroeër veral gebruik om na skoliere te verwys; skolier; leerder. 2 Volgeling, aanhanger van iemand se leer: ‘n Leerling van Confucius, Gamaliël. 3 Iemand wat een of ander vak leer; vakleerling: Vroeër het ‘n skilder of beeldhouer se leerlinge saam met hom aan ‘n kunswerk gewerk.

Die kort definisie van “leerder” teenoor die ryker begripsveld van “leerling” beklemtoon eersgenoemde se beperktheid.

Volgens Van Schaik se verklarende Afrikaanse woordeboek (Kritzinger en Labuschagne, sewende uitgawe,
1980) beteken “leerling” die volgende:

leer-ling, -e, iem. wat onderwys ontvang, skolier, kind wat leer; aanhanger, volgeling; iem. wat hom vir ‘n bepaalde vak of beroep voorberei; –skap.

Die Tweetalige Woordeboek van Bosman, Van der Merwe en Hiemstra (agste uitgawe, 1984, sesde druk 1999, Pharos) ken nie die woord “leerder” nie, maar vertaal beide “learner” en “pupil” onder andere met “leerling”. Sy vertaling van “leerling”, is “pupil, scholar, student; disciple; learner; trainee; probationer”. Die vertalings van “pupil” het nog ‘n paar woorde in wat die gedagtes oor hoe mens ‘n kind in onderwys sien, stimuleer:

pup’il leerling, skolier; opvoedeling; onmondige, minderjarige; pleegkind, ….

Let veral op die byhaal van die begrip van onmondigheid.

Die woordspoor lei onder andere na “dissipel”, en die woordeboeke bring dit dadelik by volgelinge van Jesus. Van Schaik se verklarende Afrikaanse woordeboek is kort en duidelik daaroor:

dissi’pel, -s, leerling van Jesus; volgeling; –skap.

HOEKOM WAS ‘N NUWE WOORD NODIG?

Die woorde “leerder” en “leerling” word vandag uitruilbaar in Afrikaanse onderwys gebruik, terwyl “leerder” die oorhand oor “leerling” kry, omdat dit die onderwysdepartement se term is wat orals gebruik word en meestal klakkeloos gevolg word. Diegene wat dit as blote woordgebruik sonder verdere betekenis wil afmaak, moet die vraag antwoord hoekom daar dan ‘n nuwe woord in werking gestel is, en baie duidelik ten koste van ‘n bestaande, goed-gebruikte, bekende woord wat moeilik van een of ander politieke bagasie verdink kon word.

Die antwoord is dat dit deel is van die rewolusie. Dit is nie maar ‘n toevallige woordgebruik nie, maar ‘n bewustelike keuse wat pas by die kind-gesentreerdheid van Kurrikulum 2005, wat op sy beurt weer ‘n logiese inpas in die menseregte-vertrekpunt is; en uiteindelik die demokratiese manipuleerbare massaburger vorm uit wat ‘n individuele, gelowige kind moes gewees het.

Die humanis se onderwys moet die onderwys van die mens, uit die mens, vir die mens wees, en veronderstel ‘n mens wat uit homself goed is: hy wil leer, hy is van nature ‘n leerder, so word in valse dwaasheid veronderstel.

Die inbring van die woord “leerder” is ‘n wesentlike deel van die aanslag teen Christelike Afrikaneronderwys, in die rewolusie in Suid-Afrika om die spore van Christelikheid en die ware godsdiens wat God as Skepper bely en vandaar die wetenskap beoefen, uit te wis en te vervang met ‘n mens wat uit die niksheid sy eie begrip van die wetenskap probeer vorm. So mens wat verleë rondploeter in die niksheid, kan beheer word. So mens is nie vry in Christus nie.

BELYDENIS OOR DIE MENSLIKE NATUUR

Die christen se onderwys moet die onderwysing in die weë van die HERE wees, vanuit die belydenis van Sondag 2 van die Heidelbergse Kategismus dat die mens alleen geneig is tot die kwaad: daarom moet hy geleer word, onderrig ontvang en ‘n volgeling wees, van sy ouers, van sy onderwyser, en natuurlik bo alles van Christus.

Die aanvaarding en gebruik van die nuwe woord “leerder”, het gevolge vir belydenis. Dit hou ‘n keuse in om te kies tussen humanisme en Christus. Daarby raak dit die roeping van volwassenes teenoor kinders, die benadering tot kinderopvoeding en die roeping van elke mens.

‘n Leerling is ‘n dissipel of volgeling en erken dus sy afhanklikheid van sy meerdere. Hy volg sy ouers, hy leer van sy onderwysers, hy word geleer om Christus te volg. Sy onderwys sien die kind se nood raak, naamlik dat hy onmondig is, en geleer moet word, dat as hy nie opgevoed en beteuel word nie, hy in sy onmondigheid sal bly.

Die betekenis van die woord leerling word beklemtoon in begrippe soos vakleerlingskap, waarin die leerling as onderhorige saam met die leermeester werk om die vak te bemeester. Dit geld ewe duidelik vir die leer van abstrakte vaardighede.

Een van die basiese besluite oor uitgangspunte waarvolgens kurrikulums en onderrigmetodes bepaal word, is of dit kind-gesentreerd moet wees, of vakgesentreerd. Die besinning hieroor word ongelukkig dikwels belemmer deur spitsvondighede wat die begrip “kind-gesentreerd” verwar met die vlakke en bevatlikheid waarop vakleerstof aangebied moet word. Met “kind-gesentreerd” word bedoel dat die onderwys volgens die kind se wil en regte aangebied word, teenoor ‘n aanbieding wat begin by watter kennis en vaardighede nodig is en dit dan struktureer met die noodsaak dat dit geleer moet word as primêre uitgangspunt, en nie die kind se gerief op die voorpunt nie.

Leerder-gesentreerde onderwys is menseregte gesentreerde onderwys. Kurrikulum 2005 is ‘n voorbeeld daarvan, waar die grondslae en doelwitte van die kurrikulum uitdruklik menseregte nastreef en opdwing ten koste van ‘n ootmoedige aanskouing van wat God geskep het, en om dit in eerbied te bestudeer en aan te leer. Die verder ironie is dat selfs net uit ekonomiese oogpunt, onderwys wat heeltyd net oor menseregte wil handel, die samelewing se wetenskaplike kennis en werksvermoë rampspoedig aftakel.

Christelike onderwys moet laasgenoemde ook dophou, naamlik dat sentimentele onderrig waar die onderrig van aardse wetenskap en tegniek geminag word in ‘n onderwys wat weer net op die Bybel en geloofsake fokus, ook verkeerd kan wees.

Die nuwe woord “leerder” dra in hom die wese van die humanistiese onderwys wat die huidige regering afdwing. Dit wys dat die onderwys van die nuwe Suid-Afrika soveel van vorige onderwys verskil dat ‘n nuwe woordeskat daarvoor nodig is, wat meer is as net leerder bv leerarea, fasiliteerder, deurlopende evaluering, portefeuljes. Sommige van die woorde is nie nuutskeppinge, maar is met nuwe betekenisse en gewigswaardes in die onderwys ingebring.

MENSEREGTE BOTS MET WETENSKAP

Afrika dryf menseregte hard sodat alles en almal by hulle “regte” moet aanpas. Blade Nzimande, tans minister van hoër onderwys en geruime tyd al sekretaris van die Kommuniste Party, het die Afrikaweergawe van kindgesentreerdheid in onderwys uitgespreek by ‘n hoëronderwysberaad: “Ons moet onskurrikulums en onderrigstrategieë egter aanpas by die studentebevolking wat ons het. Ons kan nie die jeug wat ons het iewers heen uitvoer en ander kry nie en ons gaan nie binnekort ‘n radikaal ander soort student kry nie” (Beeld, “Verplig Afrika-taal hiér – Nzimande”, bl 4, 23 April 2010). Dieselfde berig gaan voort: “Hy meen die kurrikulum moet op die studente se behoeftes ingestel wees sonder om akademiese standaarde te verlaag”. As jy onderwys van die student se kant af benader, het jy inderdaad “leerders” nodig wat leer wat hulle kan en wat hulle wil, en nie “leerlinge”, wat opsien na die leermeester en leer wat die die wetenskap eis geleer moet word nie, en waarin daar noodwendig dan ongelykheid ontstaan in die mate waarin verskillende individue die onderskeie vakke bemeester.

Die gevaar van die kommunistiese Afrika-ingesteldheid, is dat dit behalwe vir on-Bybelse ingesteldhede wat die mens voorop stel, in die gewone aardse sin ekonomiese en sosiale rampspoed veroorsaak namate die gelykmaking intree en kwalifikasies – wat selfs universiteitsgrade insluit – sommer net uitgedeel word, pleks dat kennis en vaardigheid vermeerder.

OPTREDE

Ontledings of waarskuwings is een ding. Wat om daaromtrent te doen, is ‘n ander saak. Die woord “leerder” is taal van die rewolusie, van die die humanis, en is vreemd in die protestantse Afrikaner se Afrikaans. Dit is betreurenswaardig dat dit met enkele uitsonderings deur Afrikaners gewoon oorgeneem is, en Afrikaanse onderwysers in daardie begripsvorming opgelei word.

Dit is teken van papheid en verwardheid dat die taal van die rewolusie so min weerstand kry, en deur gelowiges maar opgeneem word. Die argument dat dit maar net ‘n ander woord vir leerling is, gaan nie op nie – nie in die konteks van die hele menseregte-beskouing waarmee saam die woord funksioneer nie. Dis onverstaanbaar dat selfs gereformeerdes wat baie moeite doen vir die daarstel van eie leermateriaal, die woord geabsorbeer het.

Die eerste stap daarteen verg nie baie moed of moeite nie: hou op om die woord te gebruik. Verwys in gesprekke, in omsendbriewe en in onderwyssake deurgaans na “leerling”.

Ons laat toe dat die taal Afrikaans, wat tot nog toe ‘n taal was wat gevorm het en gekoester is om veral die Bybel en gereformeerde belydenis te kan uitdruk, nou deur humaniste en kommuniste vervorm word as maar net nog ‘n taal van die wêreld en die mens.

Die weerstand teen uitkomsgebaseerde onderwys is oppervlakkig en ongeloofwaardig as woordeskat soos “leerder” aanvaar word, aangesien leerder ‘n regstreekse uitdrukking is van dit wat uitkomsgebaseerde onderwys beoog, naamlik ‘n kind-gesentreerde onderwysraamwerk, wat die kind se gerief en die veronderstelling dat die kind eintlik goed is en vanself wil leer, as uitgangspunt neem.

Christelike onderwys en “leerders” gaan nie saam nie. Kies jou woorde versigtig en wees bereid om aan jou woordeskat gemeet te word oor waar jy jou skaar: by die menseregte of by die erkenning dat mense nie gelyk is nie, nie goed is nie en die leermeesters as leerlinge moet volg.

Leonard van der Dussen

kennis, en aanwysers na kennis toe
Feb 24th, 2010 by admin

Indicato Inligting (Edms) Bpk is ‘n maatskappy wat geleenthede in kennisbestuur en onderwys benut. Dit was vroeër bekend as Van Der Dussen Inligtingstegnologie (Edms) Bpk oftewel VDDi, wat meer op inligtingsbestuur en in praktyk op inligtingstegnologiestelsels gefokus het. 

Die naam Indicato kan kortliks verduidelik word met die Engelse woord “indicate”. As kennisbestuur as ‘n metode gesien word om mense in die regte rigting te stuur om by die toepaslike kennis wat benodig word, uit te kom, begin die naam Indicato en die verband met onderwys en skole duideliker word. 

Kyk uit vir die rigting wat Indicato aanwys as die “indicator” begin flikker.

 
© Indicato Inligting (Edms) Bpk